Lees Jesaja 66:10-14.
So sê die Here: Ek laat vrede na haar toe aankom soos ’n rivier … Julle sal aan haar drink, aan haar bors gedra word en op haar skoot getroetel word (v 12).
Toekomsvoorspellers is dikwels luidrugtige bedienaars van ’n gewaagde gewoonte. Hulle laat rol graag die vergesigte van hul eie begeertes en/of vrese van hul kwiksilwer tong af.
Maar nie alle toekomsvoorspellers is kwaksalwers-agter-’n-kateder of kansvatters-om-’n-braaivleisvuur nie; daar is diegene wat dit as ’n hoogs gespesialiseerde beroep beoefen. Wat tabelle raadpleeg en data byhou en huiwerige uitsprake oor die toekoms doen. Dadelik byvoeg dat dit slegs voorlopige projeksies is.
Dan is daar die Bybelse profete: Hulle maak dit uit die staanspoor duidelik dat hulle nie met ’n eie stem praat nie. Hul woorde beklemtoon die Here se mag (v 14). Hulle skram nie weg van ongewilde uitsprake nie en hulle versag nie die oordele nie. Soms draai hulle die krane vol nuwe moed en uitbundige troos oop. Dan sê hulle dinge soos: “Wees bly saam met Jerusalem en juig saam met haar …” (v 10). Hulle ondersoek nie allerlei moontlikhede nie en bied nie ander scenario’s nie. Hulle sê bloot: So sê die Here.
Hierdie Godswoorde het geslagte gelowiges getroos en geïnspireer, en tot vandag word dit graag aangehaal. Dit is goed so. God se goedheid is nog nooit getemper nie en sy oorvloedige troos vir sy bedroefde kinders stroom onafgebroke uit sy Godwees vir hulle. Daarom moet ons mooi luister om die Goddelike stem te hoor.
Ons moet bewus bly van ons desperate soeke na goeie nuus. Want dikwels verdring die uitroeptekens van naïewe voorspellers en hul roekelose gejaag na gewildheid daardie Stem. Uiteindelik verwyt ons Hóm vir al die leë beloftes.
Leer my altyd onderskei tussen die baie stemme wat rondom en binne-in my opklink. Ek wil bloot hoor wat U sê, Here.
Barend Vos