Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Jesus, die bedreiging

Lees Handelinge 19:21-27.

“Mense, julle weet dat ons voorspoed van hierdie werk afhang. Julle sien en hoor self dat hierdie Paulus … sê dat goed wat met die hand gemaak word, nie gode is nie” (v 25-26).

Op ’n keer het Jesus sy volgelinge gewaarsku om nie te dink dat sy koms vrede op aarde sal meebring nie. “Ek het gekom om tweedrag te bring …” (Matt 10:35) het Hy gesê. So sluit Hy aan by die vrome ou Simeon wat kort ná sy geboorte gesê het Jesus is bestem om baie mense se gesindheid aan die lig te bring (Luk 2:34-35).

Dit was dus nog altyd so: mense vír Jesus; mense téén Jesus; mense wat nie ’n duit omgee nie. In die vroeë kerk was die teenstand baie prominent en goed gedokumenteer. Só lees ons in die Evangelies en die Handelingeverhale van vele wat hulle heftig teen sy boodskap verset.

Alte dikwels het dié woedende weerstand maar een grondoorsaak gehad: die bedreiging wat Hy vir hulle ingehou het. Hoe verklaar ons die volgehoue valsheid van die Fariseërs en die Joodse priesterhoofde anders as dat hul gevestigde belange deur Jesus se prediking en optrede in die gedrang gekom het?

Nêrens word dit duideliker vertel as in hierdie stukkie verhaal wat in Efese afgespeel het nie. Die silwersmede wat afgodsbeelde gemaak het se verdienste word deur die evangelieboodskap bedreig. En raak jy aan ’n geldsak of aan ’n troontjie, sal daar dringend met jou ’n plan gemaak word …

Ja-nee, geld en mag is die wêreld se langslewende afgode – al heet hulle tydelik Artemis of Baäl. Of al ken jy hulle as ’n rekeningnommer of aan hul meedoënlose ystervuis. Jy buig laag voor hulle.

Here, ek wil net voor U buig, voor u blye boodskap van liefde en vrede en selfloosheid. Help my daarmee, asseblief!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.