Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Oproer, en motiewe

Lees Handelinge 19:28-41.

Almal het deurmekaar geskreeu, en die … meeste mense het nie geweet hoekom hulle daar bymekaar was nie (v 32).

’n Oproer, niks minder nie. En soos dit met sulke dinge gaan, is daar baie lawaai en dalk selfs skade, maar word weinig uitgerig. Trouens, skryf Lukas hier, daar was heelwat verwarring. So tussen die geskreeu deur is daar baie mense wat wonder wat nou eintlik aangaan. Maar dan hoor en sien hulle hoe die res raas, en dan rumoer hulle maar saam.

Al die bekende bestanddele vir so ’n gedruis is hier teenwoordig: ’n grief of vermeende grief (die belediging van ’n afgod); ’n fanatieke opstoker (Demetrius die silwersmid); die vinnige versameling van ’n skare (al weet die meeste nie waaroor dit gaan nie); ’n slagspreuk wat herhaaldelik uitgeskreeu word (“Groot is Artemis van die Efesiërs!”). En, les bes, ’n verskuilde agenda: die beskerming van inkomste en mag.

Daar is inderdaad niks nuuts onder die son nie, nè?

Gou is die skare by redelikheid verby. Paulus word gewaarsku om liefs nie sy gesig by die amfiteater te gaan wys nie. Ene Aleksander, ’n gelowige, word doodgeskree: “Groot is Artemis van die Efesiërs!” (v 34). Twee uur lank.

’n Paaiende stadsklerk bring hulle uiteindelik tot bedaring. Hy praat oor die korrekte wetlike prosedures, hy waarsku teen die gevolge van oproerigheid. En almal gaan huis toe. Wie weet hoeveel het tóé begryp waaroor die dag se opwinding gegaan het?

Sjoe, mense word darem maklik beïnvloed. En ek verwonder my opnuut oor die stem van redelikheid, oor die krag daarvan. Oor die verkieslikheid van praat bó skreeu. Oor die sagte antwoord wat woede laat bedaar (Spr 15:1).

Leer my, Here, om my nie op loop te laat jaag nie. Om deur geraasmakers se motiewe te kan sien. Om ’n sagprater te wees.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.