Lees Josua 23:1-16.
“Lê julle dus daarop toe om die Here julle God lief te hê” (v 11).
Dit kon seker nie vir die klomp woestyntrekkers moeilik gewees het om die Here lief te hê nie. In sy afskeidstoespraak herinner Josua hulle aan alles wat hierdie getroue God vir hulle gedoen het. Hoe Hy namens hulle oorlog gevoer het (v 3, 10). Hoe Hy al sy “goeie beloftes” (v 14) aan hulle nagekom het. Julle het dit tog alles gesien, sê Josua.
Dan vra hy dat hulle dit ter harte sal neem. Dit nooit sal vergeet nie. Dat hulle nie verkeerd sal kies nie. Hy waarsku hulle teen die gevolge van sulke foute. Hy soebat: Beywer julle daarvoor om die Here jul God lief te hê!
Vir die leser van dié toespraak kan dit kompleet klink asof Josua die oproep om lief te hê as ’n taak beskou. Asof hy wil sê: Toe nou, skouer aan die wiel! Wees lief vir God!
Kan dit wees? Is die liefde vir God, daardie eerste en grootste gebod, dan harde werk? Moet ’n mens jou daarvoor inspan? Gebeur dit dan nie vanself nie?
Nie as ons onsself ken en eerlik genoeg daaroor is nie. Ons wéét mos wat alles Hy vir ons gedoen het. Ons het mos gesien wat alles Hy reeds vir ons gegee het. Ons ken ook ons eie slegte geskiedenis van gou vergeet en eie koers kies. Ons is terdeë daarvan bewus dat om die regte pad te loop, gereelde eise stel. Dat dit ons telkens voor keuses te staan bring en dat ons só dikwels verkeerd kies.
Laat ons dit dus goed begryp: God het ons moeiteloos lief. Ons kan ongelukkig nie sommer dieselfde sê nie.
U loop die hele pad met my, u lam – wriemelend en klaend in u arms. Vergewe my my troueloosheid, Here!
Barend Vos