Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Drome

Lees Genesis 41:14-36.

Toe sê die farao vir Josef: “In my droom … kom daar sewe mooi vet koeie …” (v 17-18).

Josef se droomstories is welbekend; hy het dit dan so graag vertel. Van die gerwe wat buig, van die son en maan en elf sterre wat voor hóm (nogal!) kom buig. Ons weet dat dit daardie stories is wat hom oplaas in groot moeilikheid laat beland het toe sy broers se afkeer van hom die oorhand gekry het.

Daardie moeilikheid se naam was uiteindelik “Egipte” – waar hy in die tronk beland en met die koning se bakker en skinker kennis maak. Waar sy talent met drome hom darem handig te pas kom.

So beland hy by Egipte se farao, en dié vertel die oudgevangene van sý onthutsende droom: een oor koeie. En toe oor die “sewe mooi vol are” en “die sewe droë, skraal are” (v 22-23). Josef lê dit uit (“Nie ek nie! God gee dié goeie antwoord …” – v 16) en sê dan: “Ek beveel aan dat u ’n verstandige en wyse man kies en hom in beheer plaas …” (v 33).

Daar bestaan weinig twyfel oor wie die farao gaan aanwys om die voedselstrategie in die sewe oorvloedjare en die daaropvolgende sewe hongersnoodjare te behartig. Só kry die Josefverhaal ’n beslissende kinkel: Die nagmerrie stuur nou op ’n droomeinde af. Dit is soos dit dikwels met die Here se kinders gebeur. Nee, nie almal se stories eindig soos ’n sprokie nie. Maar daar is baie Godskinders wat in verskillende stadiums van hul lewe kan getuig van die “vreemdste” ingryping, van ’n “wonderbaarlike” wending, van seëninge wat “uit die bloute” oor hul pad gekom het. Dalk sal hulle selfs sê dit het “onwerklik” gevoel.

Dalk word hulle begenadig om God die Droomgewer hierin raak te sien.

U ingryping in my lewe is soms vreemd, Here, maar dit gee sin aan alles.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.