Lees Genesis 41:37-49.
Toe haal die farao sy seëlring af en steek dit aan Josef se vinger. Die farao het vir Josef linneklere laat aantrek en ’n goue ketting om sy nek gehang (v 42).
Die farao is hoogs beïndruk met Josef en sy gawes én met sy God: “God het jou dit alles bekend gemaak. Daaruit is dit duidelik dat niemand soveel verstand en wysheid as jy het nie” (v 39). Waarop hy Josef as ’n soort eerste minister aanstel.
So word daar nóg ’n sirkel voltooi: Josef, eens die ongewilde draer van sy pa se veelkleurige jas, word nou feitlik verafgod en deur die farao self nuwe klere laat aantrek. Daarby word ook die vernederende tronkklere net ’n veraf herinnering.
Sy nuwe klere gaan toe ook met nuwe pligte gepaard, en hy reis deur die hele Egipte om hom van die kossituasie te vergewis. Hierna sou hy groot werk doen om voedselsekerheid vir Egipte te bewerk. Hy sou ook ander sekerheid kry, dié keer vir homself, met weer eens die farao as weldoener: ’n vrou, en later twee seuns (Gen 41:50). As daardie afgunstige broers hom darem nou moes sien …
Maar hul beurt sou kom: In die hieropvolgende hoofstukke lees ons daarvan. Maar eers sou Josef sy twee seuns name gee wat by sy nuwe lewe pas: “Manasse”, noem hy die oudste, wat verband hou met die Hebreeuse woord vir “vergeet”. En die jongste word “Efraim” genoem, wat herinner aan die Hebreeus vir “vrugbaar” (Gen 41:51-52).
Só, te midde van die menigvuldige nuwe verantwoordelikhede, reken Josef met sy verlede af en omhels sy nuwe toekoms. En só word hy alles wat hy in hierdie stadium van sy lewe kán wees.
Dié God van Josef darem …
Ek aanbid U, Here, as die Voorsiener in elke fase in my lewe. Hoe groot is U!
Barend Vos