Lees Psalm 25:1-10.
Dink aan die liefde en trou, Here, wat U van altyd af betoon het. Moet tog nie dink aan die sondes en oortredinge van my jeug nie (v 6-7).
Hier is die regte psalm vir mense wat rigting soek. Hulle wat om die een of ander rede die pad byster geraak het, wat bang is dat hulle deur teenstanders van koers gedwing sal word. Dalk onthou hulle hoe maklik hulle vantevore al geswig het …
“Maak my u wil bekend, Here,” vra die digter dus. “Leer my u paaie” (v 4). Goddank, sê hy, sy verwagtings is nooit tevergeefs nie. “Die Here … wys selfs vir sondaars die pad aan …” (v 8). By Hom word hulpeloses gehelp (v 9).
Daar is nog net die een ding, Here: Vergeet asseblief my verlede! (v 7). Hou tog nie die dinge teen my wat ek destyds so beknoei het nie. Ja, as ek mag vra: Laat die ou koeie tog in die sloot bly lê.
Wat ’n vreemde versoek. Byna lasterlik, nie waar nie? Is “onthou” dan nie een van God se vername eienskappe nie, en maak ons nie juis daarop staat dat Hy ons onthou wanneer ons Hom vergeet nie? Herinner verskeie Bybelskrywers, en juis vele psalmdigters, Hom dan nie aan sy beloftes van vroeër en sy goedheid in die verlede nie? (Kyk Psalm 4, Psalm 16, Psalm 22, Psalm 42, en talle ander.)
Tipies! wil ons sê. Só is mense met hul selektiewe geheue, skepsels wat net onthou wat hulle wíl onthou. Nou maak hulle vir hulle ’n god wat by hulle pas.
Totdat ons onthou: Dit is hoe Hy is. Dit is, goddank, Hý: die God wat onthou wat Hy wil, en vergeet wat Hy wil. Alles, álles, ten bate van sy verwarde, skuldbelaaide kinders.
U het my onthou – halleluja! U vergeet my ellendige geskiedenis – ek prys u Naam!
Barend Vos