Lees Deuteronomium 30:9-14.
“Die gebod is baie naby aan jou, jy kan daaroor praat, jy ken dit, jy kan daarvolgens lewe” (v 14).
Moses se lewe is amper verby. Vir oulaas praat hy sy mense moed in. Herinner hy hulle daaraan om die Here se opdragte nougeset na te kom. Dit sal hul voorspoed verseker, sê hy, ook in die uitdagende tyd wat vir hulle voorlê.
Soos dit by so ’n afskeidspreek pas, kies Moses ’n vertroostende toon. Vol bemoediging. “Die gebod … is nie te moeilik vir jou nie,” sê hy. “Dit is ook nie buite jou bereik nie” (v 11). Inteendeel.
In sy verduideliking presies hóé haalbaar dit vir hulle is, gebruik Moses twee veelseggende beelde: Dié gebod is nie oorkant die see nie, sê hy (v 13). Vir daardie mense moet juis dié woordkeuse baie betekenisvol gewees het, want die see was vir hulle ’n broeiplek van boosheid, ’n bedreiging waarteen vlees en bloed nie opgewasse is nie. Hierdie beeldspraak ontneem hulle natuurlik ook van enige moontlike verskoning om dit nié na te kom nie. Niemand kan nou meer sê enigiets versper hul pad na dié gebod nie.
Vir hedendaagse gelowiges wat die bygeloof oor die see al lankal afgeskud het, is die ander stukkie beeldspraak ’n voltreffer: Die gebod is nie in die hemel nie, sê Moses. Niemand hoef te vra nie: “Wie sal vir ons opklim hemel toe …?” (v 12).
Dít is ’n troos vir alle tye. Nuwe-Testamentiese gelowiges sal juigend sê: Ja! Duisend maal, ja! Die hemel het aarde toe gekom; die Gebod het vir ons Immanuel geword. Tot vandag kan ons oor Hom praat, ken ons Hom, kan ons na sy voorbeeld leef.
Dankie, Moses, vir die beelde wat jy gebruik het. Vir die troos daarin.
En dankie, Here Jesus, dat U tot by ons gekom het. Vir dié ewige troos.
Barend Vos