Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Dwaas!

Lees Spreuke 19:1-17.

’n Dwase seun is sy vader se ondergang; die gekyf van ’n vrou is soos die gedrup uit ’n dak wat lek (v 13).

Dit is mos hoe dit met die Spreukeboek is: Dit is vol sulke een-sin-wyshede. Vir sommige Bybellesers is dit ’n eindelose bron van vermaak. “Gie-gie-gie!” giggel hulle dan. “Kyk net wat staan hier!” Dalk is dit nie so sleg dat dié ou wyshede sulke reaksie ontlok nie; ten minste word dit gelees. Dalk, so tussen die lagbuie deur, is daar iewers iemand wat verder lees, dieper kyk. Miskien is daar ’n seun wat dit twee keer lees en oor sy verhouding met sy pa dink, en dalk iemand wat weer ’n slag aan sy dwaashede herinner word.

Lees dan gerus ook die res: oor hoe die einste dwaasheid jou verhouding met die Here beduiwel (v 3); hoe rykdom jou nie weerbaar teen dwaasheid maak nie (v 1, 10).

As ons eerlik wil wees: Oor die aktualiteit, die hedendaagse toepaslikheid, van hierdie uitsprake hoef ons nie te redeneer nie. Dié vraag, egter, bly: Wat doen dit aan ons? Prikkel dit bloot ons lagspiere, en gee dit ons die geleentheid om ons eie slimmighede uit te stal?

Dit is tog die beste manier om iets van jou lyf af te hou: Maak ’n grap daarvan. Lag daaroor.

Maar is dít die manier om die stemmetjie in jou binneste (wat dalk jou gewete kan wees, of, wie weet, die Gees van God) stil te maak? Om gou-gou die vlammetjie te blus wat begin brand het toe een van hierdie spreuke jou in die maag getref het? Watter opperste dwaasheid sal dit nie wees nie.

Vir wie lag ons uit as ons van Spreuke ’n grapboek maak?

Here, skree op my! Dalk hoor ek dán u stem.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.