Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Familiesake

Lees Genesis 13:1-18.

“Die hele land wat jy sien, gee Ek vir altyd aan jou en jou nageslag” (v 15).

Terug Suidland toe met Abram en sy mense, broerskind Lot inkluis. En nou draai die skrywer geen doekies om nie: Abram se fabelagtige rykdom word in verdere besonderhede beskrywe. Nie dat Lot juis by hom afgesteek het nie …

Soos dit maar met mense gaan, ook met familie, trek tweespalt saam. Die skrywer stel dit heel prosaïes: “Hulle besittings was te veel; hulle kon nie bymekaar bly nie” (v 6).

Toe skei hul weë, maar nie sonder drama nie. Abram neem die inisiatief en staan terug: “Die hele land lê oop voor jou … As jy links gaan, gaan ek regs …” (v 9). Kies jy eerste, sê hy vir Lot.

Dié laat nie op hom wag nie. Dit wat hy op die oog het, die hele Jordaanstreek, lyk vir hom soos ’n paradys en hy trek dadelik daarheen. Abram bly alleen agter, effens verleë. Straks voel hy te na gekom.

Maar Abram se Here ontmoet hom en gee hom perspektief. Kyk rondom jou, sê Hy, en sien hoe omvattend Ek vir jou sorg (v 14).

Dit was vir eers troos genoeg vir Abram. Hy het sy tente by Mamre gaan opslaan en ’n altaar vir die Here-van-die-beloftes gebou. En daar op verdere opdragte gewag.

Naskrif: Dinge wat aanvanklik belowend lyk, blyk nie altyd só goed te wees nie. Oftewel: Dit wat bo blink … ruik dikwels sleg aan die onderkant. Lot se “tuin van die Here” (v 10) waarheen hy met soveel haas versit, sluit toe vir Sodom in. Nie wonderlike vooruitsigte dáár nie, sou hy spoedig uitvind.

Here, U het my familie vir my gegee – en my vir hulle – as ’n veilige hawe. Leer ons om alles vir mekaar te wees wat U wil hê ons moet wees.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.