Lees Psalm 15.
Wie het die reg om in u woonplek te kom, Here? (v 1).
Dit is ’n geldige vraag dié, nie waar nie? Ook vir ons hierdie Saterdag op die vooraand van Sondag, kerkdag. Ons neem wel die afstand tussen ons en die oorspronklike vraagsteller in ag – die paar duisend jaar, byvoorbeeld; die feit dat hierdie vrae voor Christus se koms gevra en beantwoord word; die besef dat wat die skrywer hier met “woonplek” en “heilige berg” bedoel, nie heeltemal deur ons in ons leefwêreld begryp word nie.
Maar hierdie digter help ons wel om twee keer te dink oor dié God vir wie ons durf “Vader” noem. Vir wie ons waag om aan te spreek en van wie ons gunste en gawes vra. Met wie ons soms redeneer en selfs baklei. Die digter se vraag is een vir alle tye: Hoe naby mag ek aan U kom, Here?
Dan word die antwoorde (voorwaardes? uitsluitingsklousules?) afgerits – en dit slaan ons soos hamers voor die bors: onberispelikheid, om te doen wat reg is, om die waarheid te praat, nie kwaad te praat nie, nie ’n medemens leed aan te doen nie, niemand te beledig nie, goddeloses te verag, altyd woord te hou ongeag die koste, nie woekerwins te maak nie, nie omkoopbaar te wees nie, die onskuldige se kant te kies.
Allawêreld.
Al wat ons – ék – hierop kan sê, is: Dan moet ek liefs bly waar ek is, hier eenkant. Of weer my plek by die kring van die spotters gaan inneem. Want ek voldoen nie aan een, nie eens aan één, van daardie lys vereistes nie.
Daar is vir ons maar ’n enkele moontlikheid – net Een. Hy wat die Goddelike woning verlaat het. Hy wat van die Here se berg afgekom het om ons daarheen te neem.
Here Jesus, U is die ingang tot u Vader se huis. Net in u Naam kom ek daar tuis.
Barend Vos