Lees Genesis 18:1-10a.
“Ek sal beslis volgende jaar hierdie tyd na jou toe terugkom, en dan sal jou vrou Sara ’n seun hê” (v 10a).
Hy heet nou reeds “Abraham” – die Here het intussen sy genadeverbond met hom gesluit – en ons ontmoet hom by sy sitplek onder die bome by Mamre. Dit is hoogson, dit is warm.
En hier daag drie vreemdelinge op. Abraham spring orent, gasvry, en oorreed hulle om te vertoef. Toe wikkel hy. Ons lees hoe hy “gou” na Sara toe gaan, haar aansê om “gou” ’n enorme klomp roosterkoeke te bak (v 6). Hy draf beeste toe, beveel ’n slaaf om “gou” te slag (v 7). En toe die klomp kos gereed is, bedien hy self die besoekers.
Eers toe kom hy tot stilstand en hoor wat die vreemdes te sê het. Nou weet die Bybelleser reeds dat die Here ’n groot nageslag aan Abraham belowe het. Ook dat hy en sy vrou toe al baie oud was. Dat Abraham gedink het die Here maak ’n grap (Gen 17:17).
Maar nou lyk dit nie meer na grappies nie – want wié is hierdie drie besoekers? Ons ken nie hul name nie; soos Abraham sien ons net hul gestalte. Hoor ons bloot die belofte, nee, meer: die versekering. Volgende jaar dié tyd …
Ons ken die res van die storie. Anders as Abraham is ons nie verras óf geskok oor al hierdie dinge nie. Net soms wil ons ook soos hy (én Sara – Gen 18:12) oor die Here en sy gestuurdes se beloftes lag en dink: Dit kán mos nie!
Ja, dit is die ding met wonderwerke wat jou beloof word: Jy glimlag maar daaroor. Jy is vriendelik met die beloftemaker, gasvry. Dalk waag jy dit tog om effens opgewonde te raak, so in die hitte van elke dag se stryd.
Abraham se storie is eintlik ú storie, Here, Wonderwerker.
Barend Vos