Lees Psalm 119:97-104.
Hoe lief het ek u wet! Dit bly my elke oomblik by (v 97).
In hierdie langste psalm sing die digter onbevange oor sy liefde vir God se woord en gebooie, van die eerste vers (“Dit gaan goed met … dié wat wandel volgens die woord van die Here”) tot by die 176ste en laaste vers (“ … u gebooie het ek nie verontagsaam nie”).
Enkele sinne uit hierdie psalm is van die mees aangehaalde in die hele Bybel, byvoorbeeld: “U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad” (Ps 119:105, 1933/1953-vertaling) en: “Hoe kan ’n jongmens sy lewe skoon hou? Deur hom te hou aan u woord!” (Ps 119:9).
Feitlik vers na vers kom hierdie uitdrukkings voor: “u wet”, “u gebooie”, “u bepalings”, “u verordeninge”, “u voorskrifte” en “u woord”. En daarom kan ’n Bybelleser dit met rede as ’n ode, ’n loflied, aan die Here se woord en sy wet beskou. Sommige sal selfs sê dit is niks minder nie as ’n liefdesverklaring.
Ag, en dit is so mooi! Vandag se gelese gedeelte is mos vol sekerhede (“U gebooie … is altyd by my” – v 98) en vol troos (“Hoe aangenaam is u woord …” – v 103) dat die leser nie anders kan nie as om diep onder die indruk van die waarde van hierdie woord en wet te kom.
Hoe het dit dan gebeur, kan ons ons afvra, dat hierdie einste woord-en-wet so in onguns geraak het? Dat dit deesdae so min invloed op gelowiges uitoefen? Kerkmense soos ons, ja, soos ek?
Ons het boonop soveel méér van hierdie woord-en-wet as ons medegelowiges wat voor Christus geleef het. Soveel meer insig as hulle. Hoekom maak dit alles ons nie bly nie? Hoe het die liefdeslied dan verstom?
Maak u woord vir my opnuut oop, Here! Dit is tog ’n lewenswoord.
Barend Vos