Lees Johannes 6:41-52.
“Is dit nie Jesus die seun van Josef nie? Ons ken mos sy pa en ma” (v 42).
Die Bybelvertalers (1983-vertaling) het ’n opskrif bo hierdie klompie verse aangebring wat só lui: “Die Jode verstaan nie Jesus se woorde nie.”
In die teks lees ons hoe hulle gemor het omdat Jesus gesê het Hy is die brood wat uit die hemel gekom het. Waar kom dié Nasaretkêreltjie hieraan?
Jesus hoor hulle. Hy begin om hulle te onderrig. Hy weet net hoe: “By een van die profete staan daar geskrywe …” (v 45) sê Hy en haal uit Jesaja aan, en brei daarop uit. Soos dit ’n goeie prediker betaam. Maar, lees ons verder, dit was bloot olie op die Jode se vuur van verontwaardiging (v 52). En dit blyk dat hulle nou nóg minder verstaan wat Hy sê. Dalk wou hulle nie verstaan nie, dalk was hul sogenaamde onbegrip pure moedswilligheid.
Daar is wel die moontlikheid dat hulle Jesus se beeldspraak regtig nie kon begryp nie. Dat hul vaste idees oor wat die ou profeet sou gesê het, doodgewoon nie vatbaar vir nuwe interpretasie was nie, in elk geval nie iets so onverteerbaar soos “die brood wat Ek sal gee, is my liggaam” (v 51) nie.
Wees dan maar simpatiek teenoor daardie Jode, hedendaagse gelowige! Jy wat gereeld aansit by ’n tafel wat in jou kerk gedek word, met ’n voorganger wat ’n stukkie brood breek en sê: “Neem, eet, dit is vir julle …”
Dan vat jy dit met jou hande aan, steek dit in jou mond en sluk dit met ’n mondjie vol wyn af. Wat verstaan jy hiervan? Hoe sal jy dit aan ’n buitestander verduidelik? Wat bid jy as jy jou oë ná hierdie klein maaltyd sluit?
Seën, Vader, wat ek eet. Laat ek nimmer U vergeet …
Barend Vos