Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Met my hele hart

Lees Psalm 138.

Ek wil U met my hele hart loof (v 1).

Dit is nou maar een ding van die Bybel se psalmdigters: Wanneer hulle bly is, sit hulle die noot hoog in! Hemelhoog: Die vreugde is ongekend, die triomf bulderend. Die dankbaarheidsvuur brand met ’n onbeskryflike gloed.

Maar is hulle in hul uitbundigheid nie ook soms geneig om effens te oordryf nie? Hoor dan hier: “Al die konings van die aarde sal U loof, Here … hulle sal sing oor wat die Here gedoen het …” (v 4-5).

Ál die aarde se konings? Wat oor dié psalmdigter se Here sing?

Stadig oor die klippe …

En asof dit nie onwaarskynlik genoeg is nie, hoor ’n bietjie hierdie vaste oortuiging: “Ja, al is die Here hoog verhewe, Hy gee om vir die nederige, maar Hy sien van ver af deur die hoogmoedige” (v 6). Natuurlik is die digter daarvan oortuig dat hý aan die goeie se ontvangkant is en dat sy vyande die slegste daarvan sal afkom.

Wat gebeur regtig hier? En, belangrik, hoe reageer ons hierop? Staan ons bloot verleë voor soveel uitgelatenheid, luister hoflik totdat die lofbetuiging klaar is, en sit dan ons sukkelgang deur die lewe se werklikhede voort? Sug oor die naïwiteit van ’n ou tyd? En indien ’n ou gelukkie ons so af en toe tref, prewel ons miskien ’n dankgebedjie en voeg dalk binnensmonds iets by soos “die Here sorg darem soms …”

Hoe is dit met die Here se kinders dat heelhartige lof vir ons ’n vreemde verskynsel geword het? Dat lofliedere ons dikwels irriteer en dat ons die God-is-goed-getuienisse as “oordrewe” bestempel? Hoe lank sal ons voortgaan om so klein te dink oor God? Hom bly geringskat?

Verlos my tog, Here, van my beperkte denke. Gee vleuels aan my kortsigtige gedagtes oor U.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.