Boodskap vir Vandag

Search

Die onwaarskynlikes

Lees Handelinge 2:22-36.

“Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak!” (v 36).

Dit is die laaste deel van Petrus se Pinksterdagtoespraak dié. Hy het reeds sy beroemde Joëlaanhaling gemaak (“… julle jongmense sal gesigte sien; julle oumense sal drome droom” – Hand 2:17) en oortuigend daarop voortgeborduur.

Nou kom hy met sy Jesusgetuienis, en hy gaan draai by die grootste voorvaderlike volksheld van almal: Dawid. Petrus haal uit die psalms aan om te bevestig dat Jesus se koms lankal in God se gedagtes was.

Dié toespraak, deur die onwaarskynlikste toespraakmaker van almal, gee aanleiding tot die eerste groot uitbreiding van die bloedjong kerk van Christus: “… omtrent drie duisend mense is op daardie dag by die getal van die gelowiges gevoeg” (Hand 2:41).

Petrus, eensklaps ’n heel ander mens as die een wat enkele weke tevore nog vloekend ontken het dat hy iets van Jesus af weet, verstrek self die rede vir die verstommende gebeure dié dag: “… Hy het die Heilige Gees wat belowe is, van die Vader ontvang en uitgestort. Dit is wat julle nou sien en hoor” (v 33).

Dit is, só sou gelowiges deur die eeue hierna uitvind, hoe die Gees werk. Hy maak van vieslike vloekers predikers, van lasteraars getroue getuies. Hy gee goue woorde aan dié wat voorheen nie ’n sinvolle bydrae tot enige ernstige gesprek kon maak nie. Hy, die Gees, bou Christus se kerk uit die mees onwaarskynlike materiaal, en “uit al die nasies onder die son” (Hand 2:5). Hulle deel maar een oortuiging: Die gekruisigde Jesus is Here en Christus. Hoe onwaarskynlik is dít nie!

En hoe onwaarskynlik, Here, dat U ook vir my deel maak van al u grootse werke. Dat U mý inbou in u kerk. Dankie!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.