Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

In dieselfde bootjie

Lees Lukas 8:22-25.

Toe sê Jesus vir hulle: “Waar is julle geloof dan?” Maar hulle was verskrik en verbaas (v 25).

Miskien, sal sommige kerkmense dink, is die teenoorgestelde van geloof nie ongeloof nie, maar eerder iets soos “verskrik en verbaas”. Want is geloof dan nie by uitstek daardie omgewing waar kalmte en tevredenheid heers nie? Dan moes Jesus se dissipels kalm gebly het. Moes hulle geweet het Jesus is saam met hulle, en daarom hoef hulle nie bekommerd te wees nie. Kon hulle doodgewoon verder slaap.

Maar toe gaan maak hulle Hom mos wakker. Ontsteld, beangs: “Meneer, Meneer, ons vergaan!” (v 24). En Jesus maak die storm stil. En vra waar hul geloof dan is.

Ons, die gelowiges uit ’n ander eeu, óns sou Hom kordaat kon antwoord en dalk sê: Ons is maar net mense, Here; vergewe ons kleingeloof, asseblief. Buitendien – en miskien sal ons dít nie vir Hom sê nie, maar net onder mekaar mompel – hierdie saam-met-Jesus-in-die-skuitjie-teologie is sommer soetsappige snert. ’n Mens moet darem ook realisties wees, en die Here moet dit tog verstaan: As die storms woedend om jou slaan, is jy bang. Punt.

Ek vermoed die Here weet dit. Ek dink Hy ken ál ons angs en vrees, juis omdat Hy naby ons is. En Hy maak steeds die storms stil wat ons so angstig maak, ten spyte van ons geloof of gebrek daaraan. Want het jy opgelet dat Hy op sy volgelinge se angstige uitroepe gereageer het deur die bron van hul vrees te verwyder, en dat Hy eers daarna gevra het na hul geloof?

Hoe noodlottig sou sake verloop het as Hy éérs geloof by hulle gesoek het en dán, in reaksie daarop, die storm stilgemaak het … Of nie.

Bly by my, Heer, terwyl die storms woed …

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.