Lees Matteus 5:43-48.
“Julle moet bid vir dié wat julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel” (v 44-45).
En wat doen die Vader se kinders? Hulle maak soos Hy maak: Hulle vergewe. Hy, die Seun, het self die daad by dié woord gevoeg toe Hy sterwend aan die kruis gehang en net daar sy Vader gevra het om sy moordenaars te vergewe (Luk 23:34). Ook een van sy eerste volgelinge, die jong diaken Stefanus, sou Hom hierin navolg (Hand 7:60).
Ek wonder of vergifnis vir al die Vader se kinders so moeilik kom soos vir my. Kyk, dit is klaar harde werk om jou familie te vergewe, en vriendskap word peperduur as vergifnis deel van die pakket is. Maar om jou vervolgers te vergewe, hulle wat hulle daarop toelê om jou lewe so miserabel moontlik te maak?
Nee, Here! Dit is darem baie gevra …
Ja, kindskap sal jou kos. Gelukkig dan nie aan daardie dinge waaraan jy werklik waarde heg nie – geld, gesondheid, gewildheid. Nee, hierdie drie g-woorde kom ongeskonde daarvan af. Dit is die e-woorde wat in die slag sal bly as jy sommer hot en haar begin vergewe – ego, byvoorbeeld. En “ek”. En “eie eer”.
Erge sooibrand is boonop jou voorland, want jy sal heelwat trots moet sluk. Én selfregverdiging oor hoekom dit nie nóú kan nie en waarom jy eers daaroor sal nadink. Asook allerlei slim verduidelikings wanneer vriende jou oor jou vergifnisvoornemens uitvra en jy darem nie té pateties wil voorkom nie.
Nee, om die Vader se kind te wees, is nie ’n saak vir sissies nie. Dit vra die moed wat net Hy kan gee. Hy wat alles van jou weet, ook hoe erg jou vyande jou mishandel.
U het mý dan vergewe, Here! Ek wat so dikwels ontken dat ek aan U behoort …
Barend Vos