Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Sug-sug

Lees Prediker 1:1-11.

Alles kom tot niks, sê die Prediker, tot niks (v 2).

’n Opregte pessimis, dié ou prediker! Dít kan ons sê nadat ons die begin van sy preek gelees het. En die lesers van die 1933/1953-vertaling sal nóg dieper sug, want hier hoor hulle herhaaldelik van alles wat “tevergeefs” is.

Tog moet ons erken dat daar heelwat waarheid in sy wanhoop is. Alles gaan maar soos dit gaan, sug hy. Mense kom, mense gaan; die wind waai oos, die wind draai wes; die riviere loop sonder ophou see toe; die mens hou aan praat, en kyk, en luister, en kry nooit daarmee klaar nie. “Wat was, sal weer wees; wat gebeur het, sal weer gebeur” (v 9).

Miskien is “pessimisties” nie die regte beskrywing vir dié man se gemoedstoestand nie; dalk is “gelate” meer gepas. Ja-nee, sug hy, laat Gods water maar oor Gods akker loop. Dit sal in elk geval gebeur; jy gaan dit nie keer nie.

Dalk het hy ’n punt beet. ’n Waarheid wat ons, sukkelaars en stryders, straks goed te pas sal kom in ons worstelinge met die lewe. Soos: Daar is dinge wat ons nie in ons leeftyd gaan oplos nie; bepaal jou dus by dit waarop jy wel ’n invloed kan uitoefen.

Soos jou naaste. Ja, Godskind, daar is nóg mense soos jy, al ken jy hulle nie goed nie en al lyk of praat of aanbid hulle anders as jy. Hulle deel hierdie wêreld en land en dorp met jou, hulle beleef ook die swaarkry en seerkry wat jy ervaar, en die wense en begeertes wat jy koester. Hulle voel soms net so magteloos soos jy.

En, soos jy, dra hulle swaar aan daardie alles-is-tevergeefs-bagasie. Jou roeping teenoor hulle is jou behoud.

Maak oop my oë, liewe Heer! Leer my om weg te kyk van myself.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.