Lees Lukas 12:13-21.
“’n Mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie” (v 15).
Jesus se uitsprake oor geld, rykdom en besittings laat baie mense moedeloos. Juis ook vir ons, die hedendaagse Jesusvolgelinge, wat deurentyd vermoed dat Hy negatief oor materiële welvaart oordeel. Dit is natuurlik nie waar nie. Jesus is wel konsekwent in sy afwysing van alles en almal wat in die pad staan van die verhouding wat Hy met sy volgelinge het. “Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie,” stippel Hy die voor-die-hand-liggende uit. “Julle kan nie God én Mammon dien nie” (Matt 6:24).
Let wel, Hy sê nie “julle moet dit nie doen nie”; dit is nie ’n nuwe wet wat Hy hier neerlê nie. Hy sê wel dis onmoontlik. Dit kán nie, jy sal óf die een óf die ander afskeep.
Nou weet ons mos: Ons liefde vir geld, ons gehegtheid aan ons besittings, ons aandag aan ons beleggings is grensloos. Wie is dit dan wat afgeskeep word?
Moenie dink dit is vir Jesus bloot ’n teologiese teleurstelling nie. Nee, Hy bekommer Hom opreg oor sy volgelinge se lewenskwaliteit. Oor hul fokus wat mettertyd totaal verskuif sodat hulle reken hul lewe hang van hul oorvloed af. Sodat hulle, die welvarende Jesusvolgelinge, selfs vir hulle ’n eie teologie ontwerp het: die sogenaamde welvaartsteologie (of gewoonweg gierigheidsteologie). Met slagspreuk en al: “Jesus het gekom dat ons oorvloed kan hê” – en dan verwys hulle dadelik en vroom na Johannes 10:10. En dink nie twee keer aan hul foutiewe, nee, korrupte gebruik daarvan nie.
Jesus se Lukas 12-storie in dié verband loop uit op dié Goddelike uitroep: “Jou dwaas” (v 20).
Here, my oorvloed is deur u geskenk. Leer my om daarmee te maak soos U wil.
Barend Vos