Lees Psalm 127:1-2.
As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs (v 1).
Hier het ons weer daardie loodswaar woord: “tevergeefs”. Herhaaldelik. Gelukkig vee dié psalmdigter dit gou-gou skoon weg, en met een van die merkwaardigste, troosvolste uitsprake denkbaar.
Maar kom ons begin by die begin. Die digter noem ’n klomp dinge op wat vir ons, sy lesers-van-alle-tye, tweede natuur geword het: om ’n huis te bou (waarskynlik in die volste sin van die woord, naamlik stene-en-sement én om ’n gesin te hê); om jou stad of dorp, die gemeenskap waar jy tuis is, te beskerm; om jou af te sloof om brood vir jou huis op die tafel te sit én jou stad of dorp se ekonomiese ratte te laat draai.
Maar, kom die ontnugtering soos herhaalde hamerhoue op doodskisspykers, dit is alles tevergeefs. Julle span julle verniet in. Word dít dan nou ’n oproep tot handjies vou en agteroor sit?
Laat Gods water …?
Goddank nié. Hier is ’n enorme troos: Julle leef – huis-en-al, stad-of-dorp-en-al, beroep-en-al – in God se domein. Hy is jul Skepper én Onderhouer. Hy het julle nie gemaak-en-laat-staan nie. En hoor hier: Die Here gee al hierdie dinge aan sy geliefdes in hul slaap! Sonder dat hulle daarvoor gewerk het. Sonder dat hulle daaroor wakker gelê het. Sonder inspanning, sonder kommer, sonder teenprestasie. Dit word bloot gegéé. Want Hy is God.
Ja, jy wat jou dae lank loop en bekommer en wat sukkel om aan die slaap te raak, jy wat bang is vir die nimmereindigende nagmerries wat jou ry: Gee jou tog oor in die arms van meer as ’n slaappil en Klaasvakie. Gaan rus in die hande van Hom wat jou môreoggend gaan wakker maak met ’n verrassende nuwe uitsig. Lekker slaap, Godskind!
Goeienag, liewe Here! Ek sien só uit na môre se gawes!
Barend Vos