Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

God se geskenke

Lees Psalm 127:3-5.

Soos pyle in die hand van ’n krygsman, so is seuns wat gebore is (v 4).

Hier moet ons, soos altyd wanneer ons die Bybel oopmaak, versigtig trap: Dié teks moet verstaan word in die lig van die destydse sosiale omstandighede. Dit was mos ’n tyd toe mans die samelewing oorheers het, toe seuns (en nie noodwendig dogters nie) ’n groot geskenk aan ’n man was.

Dit is hierdie seuns wat langs hom gaan stelling inneem wanneer hy met sy vyande te doen kry (v 5). Hulle is sy trots, die Here se geskenke aan hom wat hy met ope arms en ’n breë glimlag ontvang. Dit is hier waar die raakpunte met latere gelowiges en ’n latere samelewing gevind word: God, die Gewer van kinders aan ’n huis. Maar, ja, hier beland ons pens en pootjies tussen die duwweltjies wat onvermydelik in ons pad kom as ons oor ’n huisgesin se kinders praat: Nie almal het hierdie geskenke ontvang nie; nie almal se kinders was ewe welkom nie; nie almal word met ewe veel toewyding grootgemaak nie; nie almal het die séún gekry op wie hulle gehoop het nie …

Nee, kinders is meermale ’n kwessie. Geen eenvoudige saak nie. Beteken dit dat ons die psalmdigter sy opgewondenheid moet misgun? Moet die blydskap oor spesifiek seuns wat gebore word, uit beginsel getemper word?

Sekerlik nie. Dié psalm vra eerder van gelowiges van alle tye bloot dit: onvoorwaardelike dankbaarheid teenoor die Gewer. En daarmee saam ’n vaste voorneme om alle kosbaarhede uit sy hand te koester. Én ’n gebed-sonder-ophou dat hulle, sy geskenke aan ons, beskerm sal word. Juis ook teen generaals se grootdoenerigheid en heersers se magsbeheptheid.

Ek loof U, Here, vir elke geskenk aan my. Maak my dié vertroue waardig.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.