Lees Lukas 12:22-31.
Beywer julle vir sy koninkryk, dan sal Hy julle ook hierdie dinge gee (v 31).
Bekommernisse. Soms voel dit asof ons lewe daarvan aanmekaargesit is. Ons strompel van die een frons na ’n volgende, ons ploeter deur ’n skynbaar ondeurdringbare oerwoud ontsteltenis. Waar gaan alles tog eindig!
Jesus sê dit eindig by die begin. By daardie eerste versekering: God sorg. Hy sê ons probeer verniet om enigiets reg te kry deur ons daaroor te bekommer; ons moet eerder ons oë oopmaak en na die kraaie kyk, en na die lelies. Hy sê as ons weer na die gras in die veld kyk en ons daaroor verwonder, moet ons daaraan dink dat dit dalk nie môre meer daar sal wees nie, maar óns sal.
Ja, God sorg. En Hy het ’n ander taak vir ons as kommer oor kos en klere. Daar is die saak van sy koninkryk, byvoorbeeld. As jy jou kragte daaraan wy, sal jy nie die tyd of krag hê om jou oor alles en nog wat te bekommer nie. Jy sal in die verbygaan agterkom dat God toe weer gesorg het, en weer. Maar omdat jy so besig was om jou roeping in sy koninkryk te vervul – deur jou onder meer oor die ander koninkrykskinders te ontferm – het jy regtig nie tyd om jou te kwel oor dinge wat Hy jou in elk geval sal gee nie.
Maar is dit nie ’n bietjie, met respek, te maklik gesê nie? Ja, Here Jesus, wat van hierdie plaaslike koninkrykie waarin ek en my mense leef, die woeste politiek, my geldsake?
Dalk sal Jesus hierop net sug. Dalk sal Hy sê bekommernisse verkort ons lewe eerder as verleng. Heel moontlik verwys Hy weer na daardie koninkryksbeginsel: Die Koning sorg.
Ek is so gereeld aan die ontvangkant van u sorg, Here. Vergewe tog my vergeetagtigheid, asseblief!
Barend Vos