Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Geliefde voorgangers

Lees Romeine 9:1-9.

Daar (is) by my groot droefheid en voortdurende hartseer … oor my broers, my eie volksgenote. Ek sou self vervloek wou wees, afgesny van Christus, as dit tot hulle voordeel kon wees (v 2-4).

Paulus weet maar te goed waar hy vandaan kom – biografies, geografies en teologies gesproke. Hy sou sy afkoms verskeie kere in verskillende van sy geskrifte vermeld. Wanneer hy hier van sy “eie” mense praat, is dit sonder twyfel dié wat, soos hy, van geboorte Israeliete is, egte Hebreërs, Fariseërs in wetsopvatting, onberispelike onderhouers van die wet van Moses (Fil 3:5-6).

Maar anders as Paulus, wou dié mense niks van Christus weet nie. Hulle het nog niks van genoemde “bates” prysgegee nie en ken nie die vryspraak wat die geloof in Christus bring nie (Fil 3:7-9). Ai, sug Paulus dan, ek sal enigiets doen om hulle ter wille te wees. Ek sal selfs vervloeking verkies, as ek tog net hul redding kan verseker.

Want kyk na ons gedeelde geskiedenis! roep hy uit. Kyk na Abraham en Sara se storie! Én na Isak en Rebekka s’n, sou hy aanstons byvoeg. En Jakob s’n. Is dit alles dan nie voorbeelde van God se ontferming nie (Rom 9:10-16)?

Ons weet vandag dat Paulus se hartstogtelike pleidooi grootliks op dowe ore geval het. Dat sy mense wel hul geskiedenis met groter ywer as ooit omarm het, maar alle moontlikhede van ’n nuwe toekoms verwerp het.

Ons weet ook dat God se ontferming oor grense en geslagte heen gereik het – tot by ons. Dat daar ook in ons geskiedenis geliefde voorgangers was wat alles sou prysgee sodat ons tog net nie God se ontferming afwys nie.

Ek dank U, Here, vir hulle wat my klein-klein al gewys het hoe U lyk. Ek eer hul nagedagtenis.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.