Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Genot

Lees Prediker 6:1-6.

’n Doodgebore baba … is … beter daaraan toe as iemand wat nie die goeie van die lewe kan geniet nie, al leef hy twee maal duisend jaar (v 4-6).

Baie gelowiges – dalk die meeste – word grootgemaak met die opvatting dat “God” met “gebod” rym, en soms selfs met “lot”. Bloedweinig oorweeg ooit die moontlikheid dat die gepaste rymwoord “genot” kan wees. Daar is trouens baie kerkmense wat laasgenoemde erg naby aan laster sal beskou. Daar is gelowiges wat die idee van ’n vrolike God nie net vreemd vind nie, maar beslis ook sal afwys.

Die Prediker reken anders. Ten spyte van sy gelatenheid (“Daar is niks nuuts in hierdie wêreld nie” – Pred 1:9) en al sy “tevergeefs”-uitsprake en “gejaag na wind”-sugte, is daar ook dié vaste oortuiging: God gee vreugde in hierdie lewe. Hy laat mense die goeie dinge in die lewe geniet.

God is dus allermins die pretbederwer waarvan Hy verdink word, die nukkerige “Oukêrel daar Bo” (dáár is nou laster!) wat gereed sit om te oordeel en te veroordeel. Wat net wag vir ’n oortreding sodat Hy en sy engele kan toeslaan.

Die feit dat daar mense is wat nie die goeie gawes wat hulle van Hom kry, kan geniet nie, is ’n enorme tragedie, sê die Prediker. ’n Mens wat nie genot ken nie, het niks van die lewe nie. Dit is ook nie hoeveel jare jy in hierdie wêreld leef wat saak maak nie; dit is die gehalte van jou lewensdae wat alle verskil bring.

Gelowiges, hopelik alle gelowiges, weet dat ons van begin tot einde op geleende tyd lewe, dat ons van speenoud tot stokoud genadebrood eet. O, hoe kosbaar is ons dae! Só min tyd, só baie plesier om dit mee te vul …

O Goeie Gewer, gee my die vermoë om die meeste, die beste, uit elke genadedag te probeer kry!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.