Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Skatte

Lees Matteus 6:19-24.

“Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak … nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar … Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees” (v 19-21).

Bekend, en helaas nie juis bemind nie. Dié Jesusuitspraak oor versamelde skatte word alte dikwels met ’n vrome kopknik en ’n harde hart aangehoor.

Haai nee, redeneer ons verbete, dit is mos verstandig om vir jou hier, in hierdie duur en onvoorspelbare lewe, ’n ietsie weg te sit! Want al weet ons alles van diewe en roes en so aan, is dit mos heel veilig in ’n bank, in ’n goeie belegging, by ’n betroubare makelaar?

Buitendien, sal ons mor, wat is dié “skatte in die hemel” nou eintlik? Is dit ons goeie werke? Ons liefdegawes aan kerk en kerkmuise? Word dit alles iewers in ’n hemelse kluis gebêre?

G’n mens weet nie …

Ons weet wel, eerstehands, waar ons hart is. Oftewel ons aandag, ons belange en beplanning, ons bekommernisse. En net hier stel Jesus ’n feit aan ons wat ons nie kan ontwyk of ontken nie: Waar jou skat is, daar is jou hart. Dit is dus vir almal sigbaar. Hier loop ons immers met ons hart op ons mou.

Miskien is dit vir almal duidelik dat jy, soos Paulus dit later iewers sal stel, een van daardie mense is wat jou gedagtes rig op “die dinge wat daarbo is” (Kol 3:2). Dalk neem jy die Here ernstig op oor die vensters van sy hemel wat Hy so mildelik oopmaak (Mal 3:10).

Of miskien is jy een van diegene wat nag na nag wakker lê en dink aan opbrengste en beloftes van opbrengste. Aan markbewegings en dreigende verliese. Dit sal jammer wees. Jou hart sal dit nooit hou nie …

Here-van-my-hart, U is die enigste skat wat waarde het. Hou my in u gedagtes!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.