Lees Hebreërs 11:1-3, 8-16.
Dit is immers vanweë hulle geloof dat daar oor die mense van die ou tyd met soveel lof getuig is (v 2).
Hier is een van die mees geliefde definisies van geloof: “ … om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie” (v 1). Bekend, nè? Dit sê sommer lekker! Maar wanneer die Hebreërsskrywer hierop uitbrei en begin skryf oor die ou mense se geloof (v 2) en onder meer uitvoerig oor Abraham s’n uitwei, begin ons dalk frons.
Want ons onthou mos van sy vrees vir die Egiptiese farao en hoe hy daarom gelieg het oor Sara (Gen 12:12-19). Oor hoe hy die Here se belofte oor ’n nageslag herhaaldelik bevraagteken het (Gen 15:1-8). Hoe hy sy eie “noodplan” met sy vrou se slavin gemaak het (Gen 16:1-4). Hoe hy die Here uitgelag het (Gen 17:17). Ensovoorts, ensovoorts.
En hý is ’n geloofsheld, een wat as rolmodel voorgehou word? Is dit die Bybelskrywers se idee van ’n navolgbare geloof? Is só ’n mens deur die ou kerkvaders as die “vader van die gelowiges” beskou?
Dit is so, ja.
Maar as ons nie die Bybelskrywers se oordeel in twyfel trek nie, en huiwerig is om dit met die ou kerkvaders s’n te doen, dan bly daar net een moontlikheid: Ons het nog altyd te vlak oor geloof gedink. Geloof het klaarblyklik niks met sondeloosheid of heiligheid of selfs ’n onberispelike verhouding met God te doen nie.
Geloof is dan, soos Abraham s’n blykbaar was, ’n lewenslange reis tussen twyfel en ’n besef van jou afhanklikheid van God. ’n Moeisame maraton wat al struikelende afgelê word, die oog op Jesus gevestig (Heb 12:2).
Here, ek dank U dat U my saamneem op die reis. Al my bagasie ten spyt.
Barend Vos