Lees 2 Kronieke 33:1-17.
Die Here het Manasse en sy volk aangespreek, maar hulle het daar geen ag op geslaan nie (v 10).
Die verhale oor die Bybelse konings sorg oor die algemeen vir boeiende leesstof. In die jare sedert die bekendstes – Saul, Dawid en Salomo – was daar ’n hele versameling interessante figure: ’n klompie goeie konings, ’n klómp uitvaagsels; ’n aantal vromes, ’n spul afgode-aanbidders. Baie sorg goed vir hul mense, ’n hele klomp buit hulle gruwelik uit.
Koning Manasse van Juda se storie trek om ’n paar redes die aandag. Allereers sy ouderdom: Hy was maar twaalf toe hy koning geword het, en hy het nie minder nie as 55 jaar lank geregeer.
Maar hy was uit die staanspoor ’n slegte voorbeeld. Hy het gruwelike dinge gedoen. Hy het oral, selfs in die tempel, afgodsaltare gebou. En as dit maar al was … Hoor net hier: “Hy het sy eie seuns in die Ben-Hinnomdal as offers verbrand, hom besig gehou met goëlery, waarsêery en toordery, en meegedoen aan die oproep en raadpleging van geeste” (v 6).
Goeie genugtig! Was daar ooit tyd vir staatsake, die eintlike dinge wat ’n koning behoort te doen?
Intussen het die Here se pleidooie op dowe ore geval. Toe gryp Hy in en stuur ’n vyandige mag. Én, so lees ons, Manasse word gevang, geboei, verneder … en tóé ken hy skielik die Here!
En die Here? Hy sê vir Manasse: Kom ons begin weer voor. En toe lees ons van ’n ander Manasse, dit word ’n gans ander storie.
Dit alles omdat daar in dié verhaal ’n Here is wat nooit ophou omgee het nie. Wat nie sy rug gedraai het nie, al kon Hy. Só werk die Koning van die konings. So maak Hy, goddank, reeds ’n ewigheid langer as 55 jaar.
U is Koning, Here, en daarom sal ons bly bid vir hulle wat oor ons regeer.
Barend Vos