Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Sing, ja!

Lees Psalm 89:1-18.

Ek sal altyd sing van die Here se liefdesdade, sy trou verkondig aan komende geslagte (v 2).

Dit is so tipies van die lofpsalms: die oortreffende trap. Die kwistige gebruik van woorde soos “altyd” en “nooit”; die uitasem beskrywings van God se krag en mag; die verklaring van sy heerskappy oor al wat leef en beef, oor die “onstuimige see” (v 10), oor die hemel en die aarde “en alles daarin” (v 12).

Dit is wonderlik dat daar Bybelskrywers is wat so onbeskroomd opgewonde oor God se goedheid is. In soveel van die verhale wat ons in die Bybel lees, moet ons ons oë en ore behoorlik inspan om deur al die seer en swaar en twyfel heen iets van hierdie goedheid agter te kom. Dikwels voel dit asof jy, gelowige Bybelleser, eers ’n raaisel moet oplos of ’n legkaart moet voltooi voordat jy ’n prentjie van die liefdevolle Here kan raaksien.

In die kerk verloop dit vermoedelik nie juis vlotter nie. Ook daar volg verduideliking op verduideliking, word die Here se motiewe met groot moeite uitgepluis en met ’n geween en ’n gekners van tande oorgedra en al fronsend in ontvangs geneem.

Dan kom Bybellesers op hierdie psalm af. Hierdie vars, lewegewende bries. Onopgesmuk, uitbundig, in dié eerste agtien verse sonder selfs ’n enkele “ja, maar …” Geen wonder nie hy sê dit is eintlik beter om hieroor te sing! Boonop waar die geslagte wat kom hom kan hoor en sien.

Is dit nie dalk die beste, blywendste geskenk aan ons jonges nie? Om hulle op dié manier te vertel van God – met woorde soos “geregtigheid en reg, liefde en trou” (v 15). Sodat hulle, wanneer die swaar tye opdaag, reeds weet waar hul hulp vandaan kom.

Leer my sing, Here! Laat juig my oor u goedheid, sodat my kinders dit by my kan leer.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.