Boodskap vir Vandag

Search

Wie is U, Here?

Lees Josua 7:1, 10-26.

“… hulle het gesteel, hulle het gelieg …” (v 11).

Ons lees hierdie verhaal in die 21ste eeu. Ons verstaan daar niks van nie. Ons weet dat steel en lieg deur die eeue sonde in God se oë is. Hoe dan anders? Maar hoekom die uitgerekte wraak, die wreedheid, die massamalheid? Hoor dan: “Die hele Israel het toe vir Akan met klippe doodgegooi en hom en sy mense en sy besittings verbrand en met klippe toegegooi” (v 25).

Dit klink soos iets uit die diepste duisternis, uit die chaos voor die skepping. En nou word dit in die Bybel oorvertel en, klaarblyklik, met die Here se instemming. Méér: op sy bevel … (v 15).

Nee, ons – ek – weet nie hoe om dit te verduidelik nie. Is daar iemand, enige gelowige, wat dit wil verklaar?

Terwyl ons wag, wil ek voorlopig sê ek is dankbaar dat ek nie in daardie tyd geleef het nie. Dat jou leuens en jou diefstal nie jou én jou mense se wrede dood tot gevolg gehad het nie.

Ag, en mag ek maar byvoeg, op die gevaar van laster af: Die Here wat hier deur die Josuaskrywer aan ons voorgestel word, ken ek nie. Sy optrede verstaan ek, 21ste-eeuse Christen, hoegenaamd nie.

Ek weet wel iets van die Vader van Jesus Christus. En ek het nog altyd gedink dit is vir my genoeg. Hý is vir my genoeg. Sy genade is vir my genoeg. Noem my maar naïef of oningelig, maar as ek nie glo in Een wie se kruisdood my klippedood oorbodig gemaak het nie, daardie Een wat my diefstal en leuens en ander veel erger dinge vir sý rekening geneem het nie, dan glo ek in niks.

Here, ek weet so min! Ek klou vas aan u liefde vir my, u vergifnis.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.