Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Medelye

Lees Hebreërs 10:32-39.

Deels is julle deur beledigings en vervolging openlik tot bespotting gemaak en deels het julle gely omdat julle julle vereenselwig het met ander wat hierdie dinge oorgekom het (v 33).

Ons weet mos lankal dat ons nie té maklik ons ontberings aan die destydse Bybelse mense se swaarkry moet gelyk stel nie. “Beledigings en vervolging” teen die agtergrond van die Nuwe Testament was veel erger as die skinderstorie of die klap in die gesig waarvan ek soms die prooi is.

Hoe kán ek saampraat met wat die indertydse gelowiges se lewe bedreig het? En dan nie oor iets wat hulle gesê of gedoen het nie, of uit goedkoop jaloesie of opportunistiese nydigheid nie, maar omdat hulle in Jesus Christus glo.

Wanneer die Hebreërsskrywer sy lesers aanspoor om te volhard, herinner hy hulle aan die pad wat hulle gekom het. Aan al die bitter dinge wat hulle moes deurmaak vanweë hul keuse om hul ou geloof te versaak en Christus te volg. Hy noem ook ’n verdere keuse wat hulle gemaak het, een wat straks ook naby aan ons eie lyf kom: die kritiek wat hulle gekry het omdat hulle hul medegelowiges se stryd en lyding hul eie gemaak het.

Ja, hier kan ons tog ook saampraat. Of hoe …?

Want om pa te staan vir jou keuse om Jesus te volg, is een ding; om in die bres te tree vir medegelowiges is iets heel anders. Dit vra dalk ’n groter porsie liefde as wat ons bereid is om af te staan. Dit eis in elk geval volgehoue vertroue in Hom in wie ons glo. Hy wat ons aan mekaar toevertrou het om mekaar in swaar tye te help dra.

Here, dankie vir hulle wat my help. Hul eie drag is reeds loodswaar, en hulle sien kans vir myne ook. Aan U al die eer!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.