Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Vredevors?

Lees Lukas 12:49-56.

“Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring? Nee, sê Ek vir julle, eerder verdeeldheid” (v 51).

Dit bly een van die raaiseltekste, dié Jesusuitspraak. Die kerk verkondig Jesus dan as die “Vredevors” (Jes 9:5). Die engele sing by sy geboorte van “vrede op aarde” (Luk 2:14). Hy het self aan sy dissipels gesê: “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle” (Joh 14:27).

Van waar dan hierdie harde woorde?

Dalk moet ons terugblaai na die bejaarde Simeon se woorde toe Jesus maar enkele dae oud was: “Kyk, hierdie Kindjie is bestem tot … ’n teken wat weerspreek sal word” (Luk 2:34). Reeds hier hoor ons dat die Vredevors nie almal se idee van ’n vors sal wees nie.

Was dit nie in die loop van sy bediening so nie? Sy teenwoordigheid het dikwels onmin uitgelok. Mense het kwaad van Hom af weggegaan, vol wraakplanne. Is Hy nie by meer as een geleentheid soos ’n hond weggejaag nie? Dink net aan die tonele by sy klugtige verhoor en kruisiging.

Dan is sy “Ek bring verdeeldheid”-uitspraak tog nie so vreemd nie, of hoe? En sal ons dit nie in ons eie huis weet nie! Ons eie familie, eie gemeente, eie kerkverband, al die Christelike kerke. Ons weet hoe broers en susters en ouers en kinders met mekaar baklei … oor die Vredevors. Oor wie “waarlik” aan Hom behoort, oor wie die eintlike vertolkers van sy waarheid is.

Nee, die vrede waarvan die engele gesing het, sukkel deur die eeue om ’n tuiste op die aarde te vind. Ook tussen mense soos ons, wat toe nooit die geseënde vredemakers geword het oor wie Hy gedroom het nie (Matt 5:9).

Dié verdeeldheid, Here Jesus, is vir óns rekening. Dit is ons wat U, ons Vredevors, net met ons mond aanbid. Ag, Here …

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.