Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

’n Geskiedenisles

Lees Handelinge 7:44-53.

“Julle hardkoppiges! Julle is heidens in julle harte. Julle is doof vir die woord van God. Julle weerstaan altyd die Heilige Gees. Soos julle voorvaders gemaak het, maak julle ook” (v 51).

Ons lees weer die laaste gedeelte van Stefanus, daardie dapper diaken, se toespraak voor die Joodse Raad. Dit sou sy laaste kans wees om hom los te praat uit die aanklagte wat, so het hy goed geweet, sy dood kon kos.

Ons onthou mos dat hy gekies het om dit nie te doen nie. Hy kies eerder om die godsdienstige geveinsdheid aan die kaak te stel. Sy strategie is eenvoudig: Hy bied doodgewoon ’n geskiedenisles aan. Hy vertel aan hierdie mense wat so gesteld op hul herkoms was, bloot wat hulle reeds weet en waarop hulle so trots is.

Met dié bruuske toevoeging, ’n sweepslag: “Julle hardkoppiges!” Dan, met enkele skerp, skérp formulerings verongeluk hy die hele spul: Hy herinterpreteer hul geskiedenis vir hulle. Hy vertel hulle (wat hulle dalk heimlik weet) dat hul voorvaders toe nié so hoogheilig was soos wat hulle graag sou wou glo nie. Kyk dan hul bloedige nalatenskap: die doodmaak van God se profete! (v 52).

Nou swaai julle, die magtige raadslede, die septer. En julle is nét so! roep Stefanus uit.

Stefanus se vreesloosheid kos hom sy dood. Maar wat ’n lewe het hy nie gehad nie! Wat ’n voorreg vir ons om ná al die eeue hierdie toespraak, onthutsend soos dit was, te kan lees. Maar wat ’n ontnugtering as jy eensklaps begin wonder oor jou eie verheerlikte geskiedenis en besoedelde rolmodelle. En oor jou optrede teenoor hulle wat luidkeels van jou verskil.

Here, dit is die moeilikste ding: om onbevange te kyk na waar ek vandaan kom. Help my om u stem te hoor, ook in my nadenke oor dit alles.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.