Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Lof

Lees Psalm 103:1-8.

Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie (v 2).

Lof aan God is nooit ’n maklike onderwerp nie. Verskillende gelowiges het verskillende menings hieroor, en soms is dit erg uiteenlopend.

Trouens, gelowiges se verskille oor lof aan God grens dikwels aan slegsê, of wê! sê.

Dan gaan dit só: Ja, julle met die armswaaiery en die blink oë en die wiegende bolywe – julle maak van die lof wat God toekom ’n goedkoop foefie wat al die aandag op julleself vestig! In plaas daarvan dat die omstanders sê: O, wat ’n grote God! gee hulle julle net een kyk en sê: O, wat ’n Geesgevulde klomp lofbringers!

Die terugskreeu klink dan ongeveer só: Julle gevrektes wat so koponderstebo sit en met lippe wat skaars beweeg “prys die Heer” sing asof dit ’n begrafnislied is – julle weet nie wat dit is om Hom te loof nie. Julle sit en kry bloot julleself jammer!

Nie een van dergelike reaksies hoort by God se dankbare kinders nie, wát jou gewoonte of geneigdheid of oortuiging ook al is. Lof aan God is nie in ’n vaste patroon gegiet nie. Dit is nie ’n wet wat geen afwykings duld nie. Lof is jou dankiesê aan Hom vir alles wat Hy vir jou is en doen en gee, en dikwels is hierdie weldade baie persoonlik.

Daarom is die lof aan Hom ook baie persoonlik: Dit is jou saak en niemand anders s’n nie. Hoe jy kies om dit te doen, is van geen belang nie.

Wat saak maak, is dat jy nie een van sy seëninge vergeet nie. Dat jy hulle sal blý tel, een vir een. En dat jy dan telkens “halleluja!” sê, of jy dit nou uitjubel of binnensmonds mompel.

Ek wil U, Here, loof! Met alles wat in my is, wil ek u heilige Naam loof.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.