Lees Handelinge 17:1-9.
“Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig,” het hy gesê, “Hý is die Christus” (v 3).
Só het Paulus en sy reisgenote in die verre lande gemaak: Soek die sinagoge waar die immigrante-Jode op die sabbatdag byeenkom, gaan vertel daar vir hulle dat die Gesalfde van God na wie se koms hulle so uitsien, sy verskyning gemaak het. Sê vir hulle: Hy is in Betlehem in Judea gebore, Hy het onder die Romeine gely en is doodgemaak, maar Hy het uit die dood opgestaan. Sy Naam is Jesus. Hy is inderdaad die Christus.
Só het dit toe ook in die afgeleë Tessalonika gebeur. En ook dáár het Paulus-hulle daarin geslaag om sommige Jode te oortuig. Maar, soos oral, was daar ook heftige teenstand.
Nee, Paulus en sy medesendelinge het dit nooit maklik gehad nie. En ons kan gerus vra: Waarom dan volhou met ’n boodskap wat duidelik nie oral goed ontvang word nie? En hoekom dit juis in die spreekwoordelike leeukuil gaan aflewer, in daardie mense se aanbiddingsplek?
Die antwoord, lyk dit my, is nie so moeilik nie: Paulus was een van húlle. Hy was trouens, so het hy by geleentheid self gesê, een van die heel bestes onder hulle (Fil 3:4-6). En daarom, het hy straks gereken, sal hy hulle nie prysgee nie. Die Gesalfde van God het hóm dan nie gelos nie, al wou hy aanvanklik niks van Hom weet nie.
Ja, hy sou hulle op plekke gaan opsoek waar hulle geleer het om God se Naam te heilig, en daar sou hy hulle ’n nuwe Naam leer sê: Jesus Christus. Sommige sou dit spoedig regkry om dit agter hom aan te sê; vir ander sou dit ’n vloekwoord word. Dit is vandag nog so, ook in hierdie verre land.
Die boodskap oor Jesus Christus het tot hier gekom, tot by my en my voorgeslagte. Ek loof u Naam!
Barend Vos