Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Voltyds

Lees Jesaja 58:9b-14.

As jy jou wy aan dié wat honger het, as jy voorsien in die behoeftes van dié wat in nood is, sal die lig vir jou skyn wanneer dit donker is … (v 10).

Die Here is hier besig om deur sy profeet allerlei beloftes aan sy volk te maak. Die ellendige ballingskaptyd sál verbygaan, sê Hy. Hulle moet hulle intussen gereed hou om aan hul Here se wense te voldoen, en die onontbeerlike seën sal daarop volg.

Interessant, dié Godsbevele: Deurentyd val die klem op praktiese sake wat hul medemens raak. Dit is so basies soos: gee brood en klere, verskaf onderdak (Jes 58:7). En hier word dié versterkende uitspraak bygevoeg: Jy moet jou aan hul behoeftes toewy (v 10).

Hoe herinner dit nie aan Paulus se latere riglyne nie. Dié lui onder meer só: “Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid” (Rom 12:13). Hier is van veel meer sprake as ’n toevallige toebroodjie of ’n aalmoes in ’n bak hand; hier word ’n lewenswyse beskryf, die konsekwente deurvoer van ’n wilsbesluit. Georganiseerde, gestruktureerde hulp.

Almal wat iets hiervan weet, sal sê dergelike aksie het geen einde nie. Dit is ’n lewenslange onderneming. Nie dat die doel daarvan is om mense vir altyd afhanklik te hou nie – inteendeel. Maar wanneer die eertydse behoeftiges eers geleer het om self beter reg te kom, het daar reeds weer nuwelinge by die ry aangesluit.

Nee, barmhartigheidsdiens handhaaf nie kantoorure nie en deernis het nie ’n vervaldatum nie. Dit is goed so, want dit is hierdie voltydse bemoeienis met die weerloosstes wat die son elke dag ook oor jou laat opkom.

Here, U stuur hulle elke dag oor my pad, die hongeriges. Leer my hoe U wil hê ek my aan hulle en hul behoeftes moet gee.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.