Lees Openbaring 3:7-13.
Omdat julle aan die boodskap van my volharding in lyding vasgehou het, sal Ek julle ook vashou (v 10).
Die Bybel se veelbesproke laaste boek bevat sommer hier aan die begin sewe briewe, een aan elk van die sewe gemeentes in die destydse Romeinse provinsie Asië. Dié gemeentes het op vele gebiede gesukkel en onder meer swaar gebuk gegaan onder die Romeinse bewindhebbers. Daar was ook interne struwelings, en oral het dwaalleraars en ander kansvatters op die loer gelê.
Die brief aan die gemeente in Filadelfia is die voorlaaste een van die sewe. Teen hierdie tyd is die patroon vir die Openbaringleser reeds bekend, byvoorbeeld die herhalende woorde by elkeen, onder meer: “Ek weet alles wat julle doen”; “Aan elkeen wat die oorwinning behaal”; “Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeente sê”. Ensovoorts.
Die gemeentelede in Filadelfia kry dié persoonlike bemoediging: “Ek weet dat julle min krag het, en tog het julle aan my boodskap vasgehou …” (v 8).
Ons weet nie meer wat die presiese omstandighede was wat daar geheers het nie (nie een van daardie sewe gemeentes bestaan meer nie), maar ons ken ware troos as ons dit hoor. En wat wil jy in jou bedroewende situasie méér van Jesus hoor as: Ek weet dat jy nie sterk is nie; daarom sal Ek jou vashou?
Hy, die Here van die kerk, weet alles van beproewings. Hy weet ook hoe dit is om in die steek gelaat te word wanneer jy jou donkerste uur beleef. Sy getrouste volgelinge het dit aan Hom gedoen; Hy sal dit nooit aan ons doen nie. Méér: Aan die kruis het Hy uitgeroep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Mark 15:34), sodat ons nooit dáárdie verlatenheid sal ken nie.
Ek klou met my hele wese aan U vas, Here! En ek voel u hande onder my.
Barend Vos