Lees Psalm 112.
Dit is ’n goeie mens wat hom ontferm en wat uitleen en in al sy sake reg optree (v 5).
Hierdie uitspraak oor uitleen is teenstrydig met alle goeie finansiële raad. Want moenie dink hier is van enige rente sprake nie, nee, nee! Reeds in Psalm 15 het ons gelees dat die mens wat in die Here se woonplek mag kom en op sy heilige berg mag vertoef, nie sy geld op rente uitleen nie (Ps 15:5).
Dit is suiwer barmhartigheid dié, en daarom word “ontferm” en “uitleen” in dieselfde asem genoem. Met boonop ’n aanvulling wat daarop dui dat dit die regte ding is om te doen. (Laasgenoemde is nie nuus nie. Die Bybel is ’n handboek van ontferming, met volop voorbeelde.)
Uit die breër verband van dié psalm blyk dit ook dat hier ’n mens beskryf word met wie dit goed gaan. Só lui die eerste vers se begin: “Dit gaan goed met elkeen wat die Here dien …” Of, in die 1933/1953-vertaling: “Welgeluksalig …”
Maklik gesê! sal baie mense verontwaardig uitroep, ook gelowiges. En dan sal hulle jou lang stories kan vertel van lieg en bedrieg, van beloftes wat nie nagekom word nie en van onbeskoftheid en selfs dreigemente as hulle oor die geleende geld gaan vra. Jy kan hulle maar glo: Die een wat met bak hande kom staan en mooi vra, en die een wat jou ignoreer of vyandig aankyk as jy later navraag doen, is meestal dieselfde mens.
Nee, om uit te leen, is om moeilikheid te soek. Wie kan hierteen stry?
Die Bybelskrywers sal. Dit is hulle wat God se seën en jou bereidheid om uit te leen aan mekaar verbind.
Ag, Here, sal hulle my weer glo as ek nogmaals sê ek het regtig niks om hulle te leen nie? Ek met die oorvloed, waarvan U so goed weet?
Barend Vos