Lees Matteus 20:20-28.
“Ek wil vir hierdie laaste een dieselfde gee as vir jou” (v 14).
Hier is een van Jesus se bekendste gelykenisse, een van daardie stories waarmee Hy wou sê: Só werk dit in God se koninkryk.
Nie almal in hierdie storie werk ewe hard nie. En, soos dit maar gaan, toe dit by betaaltyd kom, toe staan almal ewe gretig nader.
Niks vreemds hier nie. Maar toe kom die verrassing, nee, ontnugtering: Almal ontvang ewe veel. Die vroegmôre-invallers en die vyfuur-loodswaaiers kry presies dieselfde loon. In antwoord op die klagtes van eersgenoemde, antwoord die baas eenvoudig: Ek wil dit so hê.
Nét so, sê Jesus, gaan dit in God se wingerd. Die aantal werkure is nie belangrik nie; wat saak maak, is die Eienaar se wil. En dié is maklik om af te lei: Daar word nie onderskeid getref nie.
Dit is vir vele ’n bitter pil om te sluk. Juis die flukses en getroues frons dikwels kwaai as hulle hierdie verhaal lees, én wanneer hulle die drie Jesusstories oor die verlore skaap, die verlore muntstuk en die verlore seun aanhoor (Luk 15:1-31). Én die een oor die misdadiger wat op Golgota aan die kruis langs Jesus s’n gehang het (Luk 23:40-43). Want in hierdie verhale word dit sonder meer duidelik: God dink heeltemal anders as ons.
As ons, die ontevredenes, tog maar wil besef: Hy doen ons nie ’n onreg aan nie (Matt 20:13). As ons ons bloot die verligting, die vreugde-in-die-doodskadu, van daardie gekruisigde misdadiger probeer indink, sal ons iets van Hom weet. En sal ons ons skaam dat ons die voorreg om Hom lewenslank te ken en die genade om heeldag in sy wingerd te mag werk, so geringskat.
Here, verlos my tog van hierdie ingekeerdheid op myself. Leer my om onbevange bly te wees oor almal wat in u wingerd ’n werkie gekry het.
Barend Vos