Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Vreemde leringe

Lees Hebreërs 13:7-21.

Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid. Moet julle nie laat meevoer deur allerhande vreemde leringe nie (v 8-9).

Hebreërs 13:8 is een van daardie verse in die Bybel wat so logies klink en wat gelowiges grondig troos. Dit verskaf aan hulle alle rede om vas te klou aan die waarhede in hul geloofslewe. En dit is goed so.

Dié bekende Bybelvers sorg egter ook vir groot genoegdoening by diegene wat hulle teen verandering verset of nuwe insigte verwerp. Dan sê hulle dalk iets soos: God bly altyd dieselfde! Basta met die vreemde idees!

Hulle slaan die bal mis. Bybelverse moet tog in hul verband gelees word, en die onmiddellike verband is dit wat dié vers voorafgaan en wat daarop volg. En hier pleit die Hebreërsskrywer dat sy gelowige lesers hulle tog nie moet laat mislei deur mense wat weer wette oor eetgebruike wil neerlê nie.

Moenie na hulle luister nie! maan hy. Onthou wat jul geloofsleiers julle geleer het: Hulle het Christus en sy genade verkondig. Niks het verander nie, en dit sal ook nie. Jesus is dieselfde as wat Hy altyd was, en Hy sal so bly.

Hiermee trek die skrywer, soos alle ander Nuwe-Testamentiese skrywers, ’n dik streep deur die sogenaamde “plus”-gelowe. Daardie vreemde leringe wat die genoegsaamheid van Christus ontken. Volgens hulle werk die resep vir geregtigheid altyd só: “Jesus plús …” Jesus plus jou goeie dade; Jesus plus jou verdienstelike vroomheid; Jesus plus jou geestelike heldedade. En, in hierdie geval, Jesus plus die regte gebruike en seremonies.

Nee, sê die Hebreërsskrywer, jul voorgangers het julle geleer dat Jesus-met-die-oorvloedige-genade die Begin en die Einde van jul geloof is. En dit is waar. Dit sal tot in ewigheid so wees.

Ek loof U, Here, vir u onveranderlike goedheid.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.