Lees Psalm 119:65-72.
Voordat ek swaargekry het, het ek gedwaal, maar nou hou ek my aan u woord (v 67).
Dit is ’n dapper ding om te sê: Hy moes eers voel voordat hy gehoor het. Hy moes eers ’n duur prys betaal voordat hy tot sy sinne gekom het.
Natuurlik is dit ook ’n skulderkenning. En om van jouself te sê jy het gedwaal, om te erken jy is toe nie so oulik as wat ander mense sou dink nie – wel, dit vra moed.
Nou gaan dit baie beter, dankie, sê hy. Noudat hy ná skade en skande teruggekeer het tot die Here se gebooie, nou weet hy opnuut: “U het aan my goed gedoen, Here …” (v 65). Trouens, sê hy: “Dit is vir my goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek u voorskrifte geleer” (v 71).
Dit is tog veel meer as bloot die tuisgemaakte troos van mense wat alte maklik dinge sê soos: “Toemaar, niks is tevergeefs nie.” Of daardie goedkoop gunsteling: “Jy weet mos daar is ’n doel met alles.”
Nee, hier is veel eerder sprake van ’n duur les wat deeglik geleer is en waarvoor niemand anders die skuld kry nie, ook nie die duiwel of die noodlot nie. Hier sien ons die prentjie van ’n mens wat op alles terugkyk, vol berou én vol dankbaarheid. Ons sien hoe hy sy oë sluit, ons hoor hom bid.
En as dit nie was dat hy duisende jare voor Paulus geleef het nie, kon ons ons sy bidwoorde selfs só verbeel: Ek het U lief, Here. En ek weet dat U alles ten goede laat meewerk vir dié wat U liefhet.
Dit is u troue sorg, Here, in goeie en slegte tye, wat my laat leef. Ek dank U vir swaarkry se lesse.
Barend Vos