Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Nuwe verwantskappe

Lees Filemon vers 1-21.

Ek doen ’n beroep op jou in belang van my kind Onesimus. Hier in die gevangenis het ek sy geestelike vader geword (v 10).

Die prys wat Paulus moes betaal om Jesus se navolger te wees, was onder meer dat hy dikwels in die tronk beland het. Tydens een van dié kere kom hy in aanraking met Onesimus, ’n wegloopslaaf, en hulle raak met mekaar bevriend. Paulus skryf later ’n briefie aan Onesimus se eienaar en stuur dit saam met die slaaf. Hopelik het dié briefie toe wel by Filemon aangeland, anders het Paulus hom met Onesimus misgis.

Paulus het ’n groot liefde ontwikkel vir hierdie vriend wat hy in die tronk gemaak het. Hy skryf onder meer aan Filemon: “Ek stuur hom na jou toe terug, en my hart gaan saam met hom” (v 12).

Wat Paulus betref, het daar nou ook ’n verandering in Onesimus se “status” by sy eienaar Filemon ingetree. Hy skryf: “Miskien was hy ’n kort tydjie van jou af weg juis sodat jy hom vir altyd sou terugkry, nou nie langer net as ’n slaaf nie, maar meer as ’n slaaf: as ’n geliefde broer. Dit is hy besonderlik vir my …” (v 15-16).

Wat ’n wonderlike getuigskrif om vir jou eienaar te neem – al keer jy bewend en onseker na hom toe terug. Dit onderstreep net weer dié heerlike feit: Wanneer God of sy gevolmagtigde jou lewe aanraak, is niks ooit weer dieselfde nie. Dan verander jou menswees: Oor jou verlede word daar nou anders gedink, oor jou toekoms word daar nuwe planne gemaak.

En jou hede staan in die teken van nuwe verwantskappe: Jy noem die God van hemel en aarde nou “my Vader”, jou baas word “my broer”. Jy het oplaas, ná baie sukkel en swerf, tuis gekom.

Here Jesus, U maak sondaars God se kinders. Halleluja!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.