Lees 1 Timoteus 3:14–4:5.
Hierdie dwaalleraars is skynheilige leuenaars wie se gewete toegeskroei is (v 2).
Om iemand wat in die Christelike kerk doenig is van dwaalleer te beskuldig, is ’n ernstige aanklag. Paulus is egter daarvan oortuig, en hy verskaf sy redes: Dié dwaalleraars verkondig snert oor die huwelik én oor gelowiges se eetgewoontes.
Dalk omdat hy self ongetroud is, wei hy nie oor eersgenoemde uit nie; oor laasgenoemde het hy heelwat te sê. God het alle kos gemaak, sê hy, en as jy dit met danksegging geniet – wel, geniét dit dan!
In hierdie 21ste eeu bestaan daar seker nie meer allerlei eetvoorskrifte in die kerk van Christus nie. In elk geval nie iets wat as ’n voorwaarde vir jou kindwees van God gestel kan word nie. En as dit wel iewers voorkom, as iemand jou beveel: “Daaraan mag jy jou mond nie sit nie!” (Kol 2:21) kan gelowiges dit gerus met minagting verwerp. Of hoe?
“Die koninkryk van God is nie ’n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee” (Rom 14:17). Hoe anders is dit as daardie dwaalleraars wie se gees boos en leuenagtig is en wie se gewete toegeskroei is.
Sal dit ’n kenmerk van alle dwaalleraars wees, ook die hedendaagses, dié dat hulle nie die vreugde en vrede van die Gees ken en verkondig nie? Dat hulle “uit beginsel” gekant is teen alles wat lig en vrolik en vrymakend is? Dat hulle niks ten gunste of ter wille van iemand anders doen nie, behalwe as hulle self daarby kan baat? Is dit wat Paulus bedoel wanneer hy oor hul gewete skryf?
Here, leer my om tussen u waarheid en gewetenlose verdigsels te onderskei. En wanneer ék dit waag om oor u Woord te praat, laat my tog my woorde versigtig tel.
Barend Vos