Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Hartsake

Lees Psalm 51:1-10.

Maar U verwag opregtheid diep in ’n mens se hart (v 8).

Dawid se misdade lê bloot voor elke Bybelleser: al die mislike besonderhede (2 Sam 11), die profeet se oordeel (2 Sam 12). Nou, in hierdie hartverskeurende psalm, gaan lê die koning, bewend en vol selfverwyt, op die grond voor God.

En hy soebat: “Wees my genadig … wis my oortredings uit … Was my skoon … reinig my …” (v 3-4).

Sal God hom vergewe as hy hard genoeg pleit en laag genoeg voor Hom rondkruip? As hy homself kasty en as hy alles onomwonde erken, ook God se reg om hom te straf?

Ja, dit weet ons vandag: Die Here hét vergewe. Hierdie hoereerder, skandemaker, moordenaar, sou nog jare lank oor die Ou Israelvolk regeer. Hy sou trouens die mees gevierde van al Israel se konings word. En die vernaamste uit al die Gesalfde, die Messias, se voorgeslagte. Daar sou later gesê word hy was ’n man na God se hart (Hand 13:22).

Om te dink dat hierdie vername man op ’n keer plat voor God gelê het (2 Sam 12:16-17). Om te dink dat daar tot vandag mense is, gelowiges, wat reken dat hierdie kruipery die rede vir die vergifnis was.

Hulle verstaan nie. Hulle weet duidelik nie veel van die skrikwekkende pyn van sondebesef nie. En hulle weet weinig van God se vergifnis. Dat dit nie die gevolg van menslike berou is nie, maar dat dit uit die aard van sy Godwees spruit. Dat dit is hoe Hy is. Só lyk sy hart.

Nee, Hy vra nie offers nie; Hy vra bloot ’n hart vol berou (Ps 51:18-19). En dít kan nie voorgegee word nie; Hy sien mos binne-in daardie hart.

U sien my, al kruip ek weg. U hoor my, al fluister ek. U weet alles. Vergewe my!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.