Lees Psalm 73.
Toe ek verbitter was en veronreg gevoel het, was ek dom en sonder insig; soos ’n redelose dier het ek my teenoor U gedra. Tog was ek nog altyd by U, want U vat my aan die hand (v 21-23).
Hoe goed ken ons dit nie: die skaamte en selfverwyt omdat jy jou soos ’n baba gedra het toe dinge sleg gegaan het. Almal en alles moes toe deurloop, ook die Here.
Ja, veral Hy. Want hoekom het Hy nie die kwaad van my af weggekeer nie? Hoekom het Hy toegelaat dat die ellende my oorval en my so bitter seermaak? Hoekom, vra hierdie psalmdigter, geniet die goddeloses soveel voorspoed? Hoor dan net wat sê hulle en kyk net wat doen hulle! Is daar dan geen geregtigheid in hierdie lewe nie, Here?
Dan … draai die wiel. Dinge word beter. Jy begin anders voel, anders dink, anders praat. En jy weet nie waar om nou jou kop in te druk nie.
Here, roep jy dan uit, vergewe my vir my redelose woorde, my skandalige optrede! Ek het gepraat sonder om te dink, sonder om aan U te dink. Sonder om dit ’n oomblik te oorweeg dat U ook die goddeloses en hul woorde en dade sien, en dat U lankal ’n plan met hulle het. “U laat hulle ondergaan deur hulle eie geknoei” (v 18).
Nou skaam ek my. Ag, Here, en ek weet dat toe ek so te kere gegaan het, was U altyd by my. U het my aan die hand gevat, al het ek soos ’n stout kind probeer losruk.
Nou is ek anders, Here, glo my! Ek weet nou wie my vashou, ten spyte van my geskop en geskree.
Here, hierdie “kindjie klein” gedra hom dikwels soos ’n klein monstertjie by U. Maak my groot na u hand.
Barend Vos