Lees Romeine 8:31-39.
Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? … Wie kan die uitverkorenes van God aankla? … Wie kan ons veroordeel? … Wie kan ons van die liefde van Christus skei? (v 31, 33-35).
Die befaamde hoofstuk 8 in Paulus se beroemde Romeinebrief eindig met hierdie nege verse. ’n Triomfantelike, veel aangehaalde afsluiting van ’n buitengewone hoofstuk in die Bybel.
Dié spesiale stuk skryfwerk wentel om vier vrae, wat telkens beantwoord word in die mees vertroostende taal denkbaar. Die hele hoofstuk 8 word trouens aan die allertroos gewy dat God se brose kinders onvervreembaar aan Hom behoort. Daar is geen sprake daarvan dat iets of iemand hulle uit sy hand kan ruk nie. Daarvoor is sy liefdesgreep te sterk.
Waar Paulus ook al gaan soek vir potensiële moordenaars van God se kinders – die dood, die lewe (!), engele, bose magte, huidige of komende dinge, enigiets anders waaraan jy maar kán dink – hy vind niks wat deur die liefdevolle God se skans kan dring nie. God se kinders het die oorhand wat al hierdie dinge betref. Om die waarheid te sê: Hierin is hulle “meer as oorwinnaars” (v 37) deur Hom wat vir hulle lief is.
En dit is uiteindelik die kort en kragtige antwoord op elkeen van daardie vier lewensvrae: God is aan sy kinders se kant; hulle hoef vir niks en niemand bang te wees nie.
Só word hierdie klompie verse een van die kragtigste opsommings van die Jesusevangelie. Dit is van hoek tot kant vol goeie nuus. Nee, Paulus bak nie mooi broodjies nie; hy noem die harde waarhede een na die ander op – en dan sê hy: Hiervan is ek oortuig: God se liefde vir sy kinders dra hulle deur dit alles, en anderkant uit.
Here, ek vind ook myself en al my vrese hier, én u onoorwonne liefde vir my. Halleluja!
Barend Vos