Lees Amos 8:4-7.
Die Here het ’n eed afgelê by Homself, by Hom wat die trots van Jakob moes gewees het: Ek sal nooit vergeet wat hulle gedoen het nie! (v 7).
Vat jy aan die armes, dan vat jy aan die armes se Here. En, let wel, dié Amosboodskap is nie aan buitestanders of vreemdelinge gerig nie; dit is ’n waarskuwing aan daardie Here se eie mense.
Nee, dit is nie nuus nie. Die Here se partydigheid vir die behoeftiges kom van altyd af. Sy keuse vir die samelewing se kleintjies is welbekend. Dit is ’n grootse troos vir daardie afhanklikes en ’n enorme waarskuwing vir hulle wat die behoeftiges uitbuit.
Ons lees dit op die Bybel se eerste bladsye – sedert Abel-die-asempie (en Kain) se dae. Dié goue draad sou dwarsdeur die profete loop en in Jesus Christus ’n hoogtepunt bereik. Hy wat die kleintjies na Hom toe laat kom, die sukkelaars ophelp en die wegkruipers opsoek.
Wat God se saak met die noodlydendes in Amos se dae nog meer akuut maak, is sy oordeel oor die godsdienstiges. Of dan dié wat die godsdiensmasker netjies voor hul gesig hou. Wat sê: Wag net totdat die sabbat verby is, dan maak ons ’n plan! Dan saboteer ons gou die skaal en verkoop minder vir méér.
Ja-nee, nie alle getroue kerkgangers se sakepraktyke is bo verdenking nie. Nie elkeen wat hul handelsure met Skriflesing-en-gebed open, handel onbesproke nie. Nie elkeen wat sê “Here, Here”, doen die Vader se wil nie.
God se bevoorregte kinders, ons, loop gevaar om sy seën op ons arbeid verkeerd te verstaan. Dit is regtig nie asof Hy ons minagting van die weerloses miskyk nie; Hy hoop seker maar dat ons betyds tot ons sinne sal kom.
Hoeveel keer het U hulle al na my toe gestuur, Here! Daardie bak hande …
Barend Vos