Lees 1 Korintiërs 9:19-23.
Vir almal het ek alles geword om in elk geval sommige te red. Dit alles doen ek ter wille van die evangelie (v 22-23).
Om alles vir almal te wil wees … Nee, dit sal nie deug nie. Ons sukkel dan reeds om net iéts vir iémand te wees!
En al is dit straks bloot ons skouerophalende grappie, steek daar waarheid hierin: Dit is harde, hárde werk om almal altyd in ag te neem. Om te weet waar jy wát moet sê, hoe jy in watter situasie moet optree. Wat om nié te doen en wat om nié te sê nie.
Paulus sê pront: Vir my draai alles om die evangelie. Dit is omdat hy oor mense begaan is, sê hy, oor hul verstaan van die Goeie Nuus, dat hy hom volledig met hulle vereenselwig. Dat hy uit sy pad gaan om deel van hul leefwêreld te word.
Tipies Paulus-die-sendeling, nie waar nie? Word doelbewus deel van ander mense se doen en late, gaan woon desnoods tussen hulle. Maak vriende met hulle, stel opreg belang, wek vertroue. Lag saam, juig saam, huil saam. Wees ’n naaste.
O, maar dit is ’n ongemaklikheid! Sendelingwees is mos van altyd af ’n ongerieflike roeping, of hoe? Daarom het ons soveel respek vir hulle wat dit aanpak. Daarom gee ons graag ’n geldjie vir daardie dapperes, die gehoorsames in daardie verre lande.
Solank daardie sendingbydrae alles en almal op ’n afstand hou. Sodat ek nie soos “hulle” hoef te word en my met “hul” stryd hoef te vereenselwig en “hul” plek hoef in te neem nie. Ek kry swaar genoeg met my eie maskers. Die erg bedrywige godsdiens in my eie hoekie eis alles van my, vir myself.
Verlos my, Here, van my sondige ingekeerdheid. Maak my hart oop, en vry.
Barend Vos