Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Minste, grootste

Lees Lukas 9:43-48.

“Wie die minste onder julle almal is, hý is groot” (v 48).

Jesus is besig met groot dinge: Hy maak mense op ’n wonderbaarlike manier gesond en almal staan “verslae oor die grootheid van God” (v 43). En terwyl almal nog verbaas rondstaan, begin sy dissipels onder mekaar stry oor wie van hulle die belangrikste is. Verbysterend!

Of dalk nié. Dit is mos in die menslike aard om jou in ander se sukses te baai. Om te dink: As ek maar net naby aan daardie kampioen kan beweeg, sal daar van sy roem ook aan my afsmeer. En sal diegene wat hom bewonder, ook vir mý hande klap.

Dalk verwag ons te veel van die dissipels. Ons reken hulle, van almal, moes van beter weet. Maar hoe sou hulle? Hulle was maar net mense, soos wat die huidige Jesusdissipels maar net mense is. Mense soos ons, wil ook maar raakgesien word.

Ons wil ook hê ander moet van ons en ons status as Jesusvolgelinge kennis neem. Kyk net wat doen Hy – en bewonder dan ook vir mý! Ek dra immers sy Naam …

Is daar enige ander medisyne vir dié siekte as dit wat Jesus destyds gedoen het? ’n Kindjie nader trek, tot beskaming van die dissipels? Sou hulle die ironie raaksien? Sou hulle Jesus se uitspraak oor grootheid ter harte neem?

Ons weet nie. Ons weet net dit sal ’n wonderwerk vereis om Jesus se dissipels – juis die hedendaagse soort, óns – van ’n sieklike beheptheid met eie eer te genees. Ons glo eenvoudig nie daardie uitspraak dat die minstes die grootstes is nie.

Ons, die koninkryk se kinders, moet nog baie leer oor hoe dit in die koninkryk werk. Tot dan sal ons aandagsoekerige peuters bly.

Ek is u kindjie klein. Laat my grootword tot u eer!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.