Lees Psalm 62.
Mense is verganklik, mense is niks: op ’n skaal wys hulle geen gewig nie, saam is hulle minder as niks (v 10).
Dit is nie uitsonderlik om van ’n psalmdigter te hoor dat die mens bloot ’n stofstippeltjie is nie; in van die bekendste en mees geliefde psalms lees ons soortgelyke opmerkings. En asof dit nie genoeg is dat sowel Psalm 103 as Psalm 90 die “stof ”-beeld gebruik nie, word in albei ’n troostelose prentjie van droë, wegwaaiende gras geskets. Ja-nee, die psalmdigters speel nie as hulle die mens se weerloosheid oopvlek nie. En hier kap hulle die spyker behoorlik in die doodskis. So is Psalm 62 se “skaal”-beeld geen verrassing nie; dit dien bloot as verryking by die ander.
Die minder-as-niks-mens staan in skrille kontras met die meer-as-grote-God. God se van “ewigheid tot ewigheid”-bestaan (Ps 90:2) staan in skerp teenstelling met die mens se tydelikheid (Ps 103:15-16). Daarom is die mens se roem op geweld en geld (v 11) so pateties.
Psalm 62 se digter weet dit alles. En daarom, sê hy, stel hy sy vertroue in God. God alleen, sy rots, sy krag (v 7-8).
Nee, hier is niks nuuts nie. Net maar die ou-ou tyding: Ons heil is slegs by ’n hoër Hand te vind. Die hoop op ander helpende hande is selfbedrog.
Ag, en ons is meesters van hierdie onnoselheid! Ons maak onsself wys dat ons alles kan reg boelie. En as dit nie werk nie, dan “reg” betaal. My skreeustem en dreigende vuis het die laaste woord, en my dik beursie die grootste noot.
Hoe onheilspellend dan die wind wat onverwags opkom en dadelik begin stof opwaai. Die droë gras wat warrel. Die skaalbak wat wiegend wag.
Here, hou my in u hande! Hou styf vas, asseblief. Ek is só bang vir hierdie wind!
Barend Vos